Saturday, October 31, 2009

Raasbekkiesestories: My laaste ruiker aan Janson


My laaste ruiker aan Janson

As mens 'n storie van sy oorsprong af volg wonder jy of dinge anders kon uitwerk. Sou ek en Janson nou op skei staan as ek nie daardie vervlakste blomme by sy kantoor laat aflewer het nie?
Sou ek nou hier met my tasse gepak op die stoep sit en wag het vir 'n huurmotor of is dit vooruit beplan dat dit so sou uitwerk? Na amper dertig jaar van 'n redelike huwelik.

Dit is nie 'n gewoonte om vir my man blomme te stuur nie ek het dit sommer gedoen op die ingewing van die oomblik. Di's hoe dit begin het.

Ek erken ek het te ver gegaan toe ek die winkelassistent vra om ' 'n Geheime Bewonderaar ' op die kaartjie te skryf.

Daardie aand het hy nie 'n woord gesê oor die blomme nie. Hy kon my nie in die oë kyk nie. Hy was die hele aand half ingedagte asof hy heelwat het om oor na te dink. Sy blou oë droomverlore.
Ek het my begin opwerk. Tot ek daaraan dink dat dit onregverdig is om vir jou man blomme te stuur en hom te laat wonder wie dit gestuur het. Amper asof ek probeer om hom uit te vang. My ouers is oorlede maar ek is seker my Ma sou sê dit was glad nie 'n slim idee nie.

Dit breek my hart dat hy so min aandag kry dat 'n bossie blomme van 'n vreemdeling hom kan verwar.

Ek kon dit nie daar laat nie. Ek het begin om een keer 'n week vir hom blomme te stuur om sy gevoelens te spaar, die misverstand was tog alles in ag genome my skuld. Sy oë het al blouer en dromeriger geraak. My geskimp oor die blomme is heeltemal geignoreer, amper asof hy nie wou weet dat dit sy lieflingvrou is wat die blomme stuur nie. Hy het al hoe meer puntenerig begin raak oor sy klere en hare. Ek het 'n monster geskep.

Martie, 'n goeie vriendin, werk vir Janson en is my oë aan die binnekant van sy besigheid. Natuurlik moet sy versigtig wees want Janson is nie 'n sagmoedige baas nie. Mens moet jou plek ken. Sy blou oë kan vlam vat as mens dit te naby waag. Van haar moes ek hoor hoe Janson so half en half begin bloos as hy die blomme kry.

Ek het begin om vir hom briewe te tik en saam met die blomme te laat aflewer. Ek het gehoop om binnekort iewers in die briewe te kan noem dat dit ek is wat vir hom die blomme stuur.

Hy besluit toe om 'n brief terug te skryf. Hy het die afleweraar ingenooi, verduidelik dat hy nie weet wie vir hom die blomme en die briewe stuur nie en 'n brief oorhandig wat moes gaan aan die geheime bewonderaar. Janson kan niks sleg doen nie en as hy iets regtig goed wou doen, soos 'n brief skryf, is hy onverbeterlik.

Ek was briesend.

Dit is die dank wat mens kry as jy iemand se gevoelens probeer spaar.

Ons briewe het al meer persoonlik geraak. Ek het nie geweet hoe om hom te laat besef ek weet van sy verraad nie. Dit kon hom knak. Janson is baie trots.

Die besigheid was in die moeilikheid maar Janson het my niks daarvan gesê nie ek moes dit in sy briewe lees en by Martie hoor. Hoe durf hy my met 'n vreemdeling bespreek? En aan haar verklap hoe moeilik dit vir hom is om vir my te vertel van die besigheid se moeilikheid?

Ek het met hom begin baklei sommer vir enige rede. Vanoggend het ek vir hom gesê ek trek uit ek gaan vir 'n ruk by ons oudste dogter bly. Hy het niks gesê nie, my net staan en aankyk en toe werk toe gery.

En nou sit ek hier met my tas op die voorstoep en wag vir die huurmotor.

Daar hou 'n motor stil. Dit is die blommewinkel se afleweraar. Hy het 'n bos blomme en 'n kaartjie.

Joleen

'Ek is jammer ek het jou so lank geterg. Ons sal maar eers ons speletjie moet staak al het ek dit natuurlik meer as jy geniet. Ons moet nou eers weer dink hoe ons finansieel gaan oorleef. Ek hoop dat jy by die huis sal wees vanaand dat ons enige ander misverstande kan bespreek.'

Groete, Janson.

My hande begin eers bewe van woede. Hoe kon hy dink dis snaaks om my so kwaad te maak? Maar dan kry ek my emosies onder beheer.

'Net 'n oomblik,' sê ek vir die afleweraar, en gee hom 'n paar rand vir 'n laaste ruiker vir Janson.

Ek ken my man, hy sal vanaand al oor ons begroting wil praat en hoe duur blomme deesdae is. Hy sal sê ons moet beplan want dinge werk nie sommer net vanself uit nie. Alles kan nie net maanskyn en rose wees nie.

Nou ja, ek het sy briewe en dis 'n fortuin werd, die enigstes wat hy ooit vir my geskryf het.

Ek sal maar versigtig moet wees in die toekoms . . . mens se eie hand is dikwels so 'n deel van jou noodlot jy kom dit skaars agter.

Kopiereg, raasbekkiesestories.





Sunday, October 25, 2009

Afrikaanse Kinderstorie: Sim-salla-bim

Die kinders van Blomstraat 7 wag al van vroeg af by die tuinhek. Hulle is opgewonde want Tannie Nakkie en Oom Pyp kom kuier en dan is die dag vol lag. Daantjie, die jongste van die kinders, sit bo op die tuinhek om hulle eerste te sien aankom.

'Daar kom hulle!' skree hy, spring van die hek af en hardloop kaalvoet, teen sy ouer susters se bevele om hom te gedra, in die straat af.

Ver in die pad kom Tannie Nakkie en Oom Pyp aan. Tannie Nakkie dra 'n blou rok en swart oprygstewels en in haar regterhand 'n groot kou met ‘n pappegaai in. Dis Piet. Hy skree, 'Laat my uit! laat my los! stel my vry!'

'Wees nou geduldig Piet ons is amper daar,' sê Tannie Nakkie en skop met haar stewel 'n klip uit haar pad.

Oom Pyp dra twee groot tasse. Sy broek trek tot net bo sy enkels en daar steek 'n hele ent van sy wit en rooi gestreeptesokkies uit. Op sy skouer sit 'n apie, dis Willem.

'Hallo Tannie Nakkie en Oom Pyp en Piet en Willem,' roep Daantjie al van ver af.

'Hallo Grootman,' sê Oom Pyp toe Daantjie uitasem by hulle aankom.

'Hier’s vir jou,' Oom Pyp haal 'n groot toffieappel uit sy sak en gee dit vir Daantjie.

'Dankie, Oom Pyp.' Daantjie kan skaars sy geluk glo, die kinders van Blomstraat 7 is arm en toffieappels is skaars.

'Dis niks, dis niks,' sê Oom Pyp vinnig, hy is baie skaam.

'Hoe kan ‘n grootmens so skaam wees?' wil Tannie Nakkie weet.

'Ek weet nie, ek is maar net.' sê Oom Pyp.

'Hoe gaan dit by die sirkus Tannie Nakkie?' vra Daantjie en knaag aan sy toffieappel.

'Nee, dit gaan aan, dit gaan aan, behalwe vir ‘n paar van die personeel. Die Olifant, klein Duk Daan, het in ‘n doring getrap en nou wil hy glad nie trompetter as ons nie heeldag roompies aansmeer nie. Die apies beskinner ons van die oggend tot die aand . . .' Tannie Nakkie skud haar kop dat haar oorbelle heen en weer swaai,

'Regtig, Tannie? Wat sê hulle?' Daantjie kan dit skaars glo.

Tannie Nakkie kyk eers oor haar skouer voor sy fluister, 'Hulle sê,' sy praat al sagter, 'hulle sê Oom Pyp het gate in sy sokkies!'

Daantjie kyk vinnig af na Oom Pyp se sokkies. Hy sien drie gate! En nie net dit nie, Oom Pyp se linkergroottoon steek voor by sy skoen uit!

'Dis waar, dis waar . . .' Oom Pyp laat sy kop skaam sak.

'Waar? waar?' vra Tannie Nakkie, 'Mens sê nie sommer agter iemand sê rug, ‘Haai kyk daai ou het gate in sy sokkies nie’, dis ongemanierd, dis ongehoord, dis baie erg, dis verskriklik.'

Daantjie kan sy ore nie glo nie. Sy oë word sommer vol trane as hy dink hoe die apies met Oom Pyp sukkel.

'Maar die eende is baie gaaf, ' sê Oom Pyp vinnig om te keer dat Daantjie huil.

'Wat sê hulle Oom Pyp?' vra Daantjie.

Oom Pyp trek sy lippe saam, 'Hulle sê ‘Kwaak, kwaak as ons daai tier in die hande kry dan, kwaak, kwaak, trek ons sy snorbare vir hom uit en ons, kwaak, kwaak herrangskik sy strepe tot hy soos ‘n zebra lyk.'

'Hou hulle nie van die tier nie Oom?' lag Daantjie.

'Nee, daai tier brom die heeldag ‘Sjoe, maar 'n eend sal darem nou vorentoe smaak al is dit net 'n vlerkie of 'n boudjie.’ Oom Pyp lek oor sy lippe en grom soos 'n tier.

Uiteindelik is hulle by die hek en Daantjie se broers en susters kom help met die tasse.

'Sit my neer, laat my uit, ek eis my vryheid!' skree Piet die pappegaai. Tannie Nakkie sluit die hok se deurtjie oop en laat hom in die tuin op die gras loop.

'Hallo Nakkie, hallo Pyp,' groet Daantjie se Ma, Tannie Marie.

Tannie Nakkie fluister vinnig in Daantjie se oor, 'Onthou dis spesiale sirkussokkies sê vir die ander om nie te lag nie,' dan groet sy Daantjie se Ma.

'Gaan julle vanaand hier bly dat julle sulke groot tasse saamdra?' vra Tannie Marie.

'Nee, dis geskenke vir die kinders en lekkers en Oom Pyp se . . .uhm . . . towerstaf . . . hy’t lesse geneem om te help met sy selfvertroue. . .' sy kyk kwaai na die kinders wat proes van die lag.

'Help! Help!' Oom Pyp het in die middel van die paatjie oor sy eie voete geval. Hy lê met sy bene in die lug en die kinders kan ses gate sien waar lang beenhare uitsteek. Hy hou sy oë met sy een hand toe van skaamheid en skree, asof hy 'n been gebreek het.

Tannie Marie kyk streng na die kinders en hulle help om op. Hy lag verlig toe hy agterkom niks is gebreek nie. 'So ja, so ja,' sê hy 'Wil julle trieks sien, wil julle?'

'Ja! Ja!' skree die kinders en wil weer lag vir Oom Pyp wat glad nie skaam is as hy sy towerstaf in sy hand het nie. Dis 'n blou, plastiek towerstaf met 'n groot ster aan die voorkant soos wat kinders mee speel.

'Sim-sa-la-bim, ek toor 'n sjokoladekoek en sewe glase en 'n . . .uhm . . .wat nou weer Nakkie?' vra Oom Pyp.

' 'n Yskastert.' sug Tannie Nakkie.

'O ja,' sê Oom Pyp, ' 'n Yskastert en twee liter lemonade!”

'Ek sien niks Oom Pyp' sê Sarel, Daantjie se oudste broer.' Die kinders kyk vinnig om hulle en voor hulle.

'Jy sal niks sien nie, nee, nee want dis iewers waar jy dit nie kan sien nie,' sê Oom Pyp en glimlag geheimsinnig,

'Aggeneeman Pyp,' sê Tannie Nakkie vir hom en dan vir die kinders 'Jou Oom Pyp het vergeet hy moet die goed laat verskyn. Nou ja, hy’t dit in een van die tasse ingetoor.'

Oom Pyp bloos rooi van skaamte, 'Ja, daardie een,' beduie hy met die towerstaf.

Die kinders maak die tas oop en daar is alles wat Oom Pyp glo getoor het. Hulle kyk vir mekaar en dan na die sjokoladekoek, die glase, die lemonade en die yskastert. Hulle druk hulle lippe styf opmekaar want Tannie Nakkie maak groot oë vir hulle om niks te sê nie.

'Dis ‘n pragtige sjokoladekoek Pyp, ek gaan vir ons borde haal,' sê Tannie Marie.

'Ek wil ok hê, ek wil ok hê,' skree Piet.

Tannie Marie kry borde en Willem die apie, eet sy koek met 'n mes en vurk.

Oom Pyp haal sy hoed af. In die middel van sy kaalkop is daar net ‘n bossie groen hare. Die kinders kou versigtig en kyk oral behalwe na Oom Pyp se hare. Hulle wil hom tog nie nog skamer maak deur te staar nie.

'Wat dink julle van Oom Pyp se nuwe haarstyl? ' vra Tannie Nakkie en kyk bewonderend na Oom Pyp.

'Dis . . .nogal . . .snaaks , ek bedoel nogal mooi . . . ' Sonja byt haar onderlip vas.

'Mooi?,” Tannie Nakkie snuif geweldig, 'Dis meer as mooi, dis elegant . . . dis aantreklik . . . dis opspraakwekkend . . . dis nuuswaardig . . . dit laat hom twintig jaar jonger lyk!'

'Izzit? Izzit?' skree Piet.

'Dit help my met die toordery,' sê Oom Pyp, hy hou sy towerstaf in die lug, 'Kyk, sim-sa-la-bim ek toor ‘n uhm . . .wat toor ek nou weer Nakkie?'

'Toor vir elke kind ‘n klein kuiken,' stel Tannie Nakkie voor.

'Hoooeeeners!' skree Piet

'Ja, ja' skree die kinders.

'Sim -sa-la-bim, tien klein kuikens,' sê Oom Pyp en swaai sy towerstaf deur die lug.

Die kinders sien niks. Hulle kyk na die ander tas. Hulle sien daar is gaatjies in die deksel asof iets daarbinne moet asemhaal. Daantjie maak gou die tas oop en hy sien 10 klein kuikentjies almal net so groen soos Oom Pyp se hare.

'Het julle hulle hiernatoe gedra?' vra Sarel.

'Oom Pyp het hulle getoor. Jy kan mos sien,' Tannie Nakkie snuif verontwaardig.

'Nou ja ons moet begin terugstap. . .' sê Tannie Nakkie en staan op van die gras waar sy gesit het.

'Is julle nie bang vir die donker nie?' vra Daantjie met groot oë.

'Bang? Nie so erg nie,' antwoord Oom Pyl en slaan neer oor sy eie voete met sy bene in die lug, 'Help!, help!' skree hy.

Tannie Nakkie help hom op en stof sy klere af, 'Toemaar' sê sy, 'dit sal makliker wees sonder die swaar tasse.'

Sy sit vir Piet terug in sy hok.

'Laat my uit, laat my los of ek lê 'n hoendereier!' roep Piet

'Ek gee nie om of jy 'n volstruiseier lê nie,' sê Tannie Nakkie en sluit die hok se deurtjie.

Die kinders staan by die tuinhek en waai totsiens tot hulle die twee oumense nie meer kan sien nie. Dan draai hulle om en stap terug huis toe.

'Dis snaaks,' sê Sarel toe hy die lee tasse optel.

'Wat is snaaks?' vra Daantjie

'Die tasse voel so swaar,' sê Sarel en buk om een tas oop te maak. Dis vol lekkers van allerande soorte! Die kinders kan hulle oë skaars glo.

'Kyk!' Daantjie sukkel maar hy kry die ander tas oop.

Die kinders staar na die tas vol speelgoed en 'n nuwe trui vir elkeen.

In die verte hoor hulle vir Piet skree, 'As daai tier met my sukkel gaan ek hom wikkel! Hy dink hy weet alles, hy’t nog baaaie om te leer . . .ek sal vir hom 'n nuwe brul opsit . . .bru-u-ul.'

© Kopiereg Raasbekkie se stories