Showing posts with label skryf. Show all posts
Showing posts with label skryf. Show all posts

Saturday, November 14, 2009

raasbekkiesestories: Sjokolade Poetry



raasbekkiesestories: Sjokolade Poetry

Na twintig jaar as die reklameman van die grootste sjokolademaatskapy in Soetfontein is daar net een idee in Hermanus Breda se kop na sy bedanking en dit is dat hy nooit weer 'n sjokoladestafie wil sien nie. Trouens, hy sal nooit weer enige iets soets in sy huis toelaat nie.

Daarna is sy hoofdoelwit om vir een jaar lank alleen in sy huis te bly en op die meeste vir sy suster en haar man te gaan kuier een keer per week. Dis al. 'n Eiland is wat hy wil wees vir ten minste 'n jaar. Stories spin oor sjokolade is vir altyd verby. Hy sal weer werk soek na die eerste jaar verby is maar vir eers het hy genoeg gehad.

Die eerste paar maande is hemels. Hermanus staan vroeg op, maak koffie en gaan sit buite op die kombuistrap na die perskebome se geel blare wat val en kyk. Party aande vat hy sy kierie en stap ver ente en slaap dan sommer in die veld oor. Daar is meer as genoeg om te doen en Hermanus geniet elke oomblik van sy vryheid. Die stilte sonder telefone wat lui gee aan hom 'n ongekende heerlike vrede.

Al die rus en vrede maak sy kop so helder dat hy begin dig. In sy gedigte vat hy die dinge wat mense graag sou wou sê maar nie weet hoe nie netjies vas. Hy wys sy gedigte vir niemand. Dit behoort aan hom en hy wil geen kommentaar daarop hê nie.

Na drie jaar is Hermanus 'n kluisenaar wat so te sê met geen mens kontak maak nie. Hy kuier al minder by sy suster en raak al hoe meer in sy boeke en by die natuur betrokke.

Soos die geluk dit wil hê, breek diewe een aand in sy huis in terwyl hy iewers in die veld voor 'n vuurtjie sit en mymer. Hulle steel onder andere sy notaboek met al sy gedigte. In die binnekant het Hermanus oudergewoonte sy naam, adres en die datum geskryf.

Die diewe gooi die boek langs die pad weg en dit is Johannes Nel, nuusredakteur van die Soetfontein Herald wat dit die volgende oggend in die straat optel.

Johannes kan nie glo dat 'n man wat hom sy lewe lank met lekkergoed besig gehou het so kan skryf nie. Binne weke oortuig hy Hermanus dat die gedigte in die Soetfontein Herald gepubliseer moet word.

Hermanus is teen die tyd al vir vier jaar min of meer sonder geselskap en nie meer goed met stry nie. Verder leef hy al vir 'n hele ruk op die grens van werklike armoede.

Na 5 jaar sonder werk is dit Soetfontein se bankbestuurder se plig om Hermanus in te roep en aan hom 'n paar harde werklikhede mee te deel oor sy geldsake. Hermanus is so te sê bankrot, van sy pensioen wat hy uigekeer het bly niks oor nie en hy skuld die bank alles wat hy het en nog meer. Die bankbestuurder trek sy bo-lip op soos 'n hond wat gaan byt toe Hermanus hakkelend probeer verduidelik dat hy 'n paar rand gaan kry vir gedigte wat die redakteur van die Soetfontein Herald wil publiseer.

'n Maand later publiseer die Soetfontein Herald elke naweek drie van sy gedigte en dit is so gewild is dit dat nasionale koerante daarvan te hore kom. Die gedigte word oornag beskou as die nuutste Afrikaanse meersterwerke.

Hermanus gaan sien weer sy baas by die sjokolademaatskappy en word meegedeel dat hulle hom nie kan terugvat nie maar dat hulle wel 'n alternatiewe voorstel het. Hulle sal die kopiereg koop op sy naam en op sy gedigte vir 'n astronomiese bedrag en hulle sal hom ook tantieme betaal op die gebruik daarvan.

Hermanus het geen keuse nie, hy stem in. Die eienaar van die sjokolade fabriek glimlag en skakel die reklameafdeling.

Dit is omtrent twee maande later dat Hermanus deur sy geliefde veld stap en toe hy opkyk sien hy daar teen die horison 'n reuse advertensiebord. Hy stap nader en toe hy nog honderde meters ver van die bord is herken hy die profiel van sy eie gesig en baard en daar staan geskryf 'The Hermanus Chocolate Dream - Poetry in your Mouth.' Onder dit is een van sy gedigte in italic uitgeskryf langs die nuutste sjokolade stafie op die mark.

'Hulle het sowaar 'n sjokolade na my vernoem,' brom Hermanus en skop 'n klip uit sy pad.

Hy weet iets is nie reg nie maar hy kan nie presies sy vinger daarop sit nie. In al die jare van advertensiekopie, persverklarings en sjokolade resepte uitdink behaal hy nou skielik sukses me sy diepste gedagtes gekoppel aan sjokolade. Is sy lewe op een of ander manier vermeng met sjokolade? Het hy sjokolade karma?

'Dis goedkoop.' Besluit hy en wonder of dit veilig is om huis toe te gaan en of daar dalk alweer bewonderaars kampeer in sy voortuin. Die vorige groep het allerande hippie maniere gehad, kliphard musiek gespeel tot laat in die nag en amper die plek afgebrand met 'n 'kerse in 'n sirkel' ritueel.

In sy vyf jaar van afsondering het Hermanus nou so eenvoudig begin lewe dat hy nie die kompleksiteite van die lewe meer kon insien nie. Hy het eers nie mooi verstaan wat die implikasies was toe 'n nuwe musiektreffer gebaseer op een van sy gedigte die lig sien nie. Die woorde is effens aangepas en waar Hermanus geskryf het oor die skoonheid van die natuur en die son en maan en sterre het die sjokolademaatskappy dit ietwat verwerk en oral waar gepas is die woord 'sjokolade' ingewerk. Die gedig se naam was, 'Gee my die Skoonheid' en die liedjie se titel is ' Gee my 'n chocolate'.

Hermanus was stink-stink ryk. Dit het die bankbestuurder 'n uur gevat om dit aan hom te verduidelik. Die bankbestuurder was meer opgewonde as Hermanus wat hom net kon sit en aankyk.

En so het Hermanus finansieel oorleef. Hy was tevrede. Hy kon tog op 'n manier daarmee saamleef dat hy beroemd geraak het vir die woorde van 'Gee my 'n chocolate'

Die woorde van 'Gee my die Skoonheid.' het iemand verloor. Hy was al een wat die woorde geken het. Tog, hy kon die woorde duidelik onthou.

Hy kon die woorde onthou dit was syne en verder kon hy ook 'n dak oor sy kop hou.



Saturday, October 31, 2009

Raasbekkiesestories: My laaste ruiker aan Janson


My laaste ruiker aan Janson

As mens 'n storie van sy oorsprong af volg wonder jy of dinge anders kon uitwerk. Sou ek en Janson nou op skei staan as ek nie daardie vervlakste blomme by sy kantoor laat aflewer het nie?
Sou ek nou hier met my tasse gepak op die stoep sit en wag het vir 'n huurmotor of is dit vooruit beplan dat dit so sou uitwerk? Na amper dertig jaar van 'n redelike huwelik.

Dit is nie 'n gewoonte om vir my man blomme te stuur nie ek het dit sommer gedoen op die ingewing van die oomblik. Di's hoe dit begin het.

Ek erken ek het te ver gegaan toe ek die winkelassistent vra om ' 'n Geheime Bewonderaar ' op die kaartjie te skryf.

Daardie aand het hy nie 'n woord gesê oor die blomme nie. Hy kon my nie in die oë kyk nie. Hy was die hele aand half ingedagte asof hy heelwat het om oor na te dink. Sy blou oë droomverlore.
Ek het my begin opwerk. Tot ek daaraan dink dat dit onregverdig is om vir jou man blomme te stuur en hom te laat wonder wie dit gestuur het. Amper asof ek probeer om hom uit te vang. My ouers is oorlede maar ek is seker my Ma sou sê dit was glad nie 'n slim idee nie.

Dit breek my hart dat hy so min aandag kry dat 'n bossie blomme van 'n vreemdeling hom kan verwar.

Ek kon dit nie daar laat nie. Ek het begin om een keer 'n week vir hom blomme te stuur om sy gevoelens te spaar, die misverstand was tog alles in ag genome my skuld. Sy oë het al blouer en dromeriger geraak. My geskimp oor die blomme is heeltemal geignoreer, amper asof hy nie wou weet dat dit sy lieflingvrou is wat die blomme stuur nie. Hy het al hoe meer puntenerig begin raak oor sy klere en hare. Ek het 'n monster geskep.

Martie, 'n goeie vriendin, werk vir Janson en is my oë aan die binnekant van sy besigheid. Natuurlik moet sy versigtig wees want Janson is nie 'n sagmoedige baas nie. Mens moet jou plek ken. Sy blou oë kan vlam vat as mens dit te naby waag. Van haar moes ek hoor hoe Janson so half en half begin bloos as hy die blomme kry.

Ek het begin om vir hom briewe te tik en saam met die blomme te laat aflewer. Ek het gehoop om binnekort iewers in die briewe te kan noem dat dit ek is wat vir hom die blomme stuur.

Hy besluit toe om 'n brief terug te skryf. Hy het die afleweraar ingenooi, verduidelik dat hy nie weet wie vir hom die blomme en die briewe stuur nie en 'n brief oorhandig wat moes gaan aan die geheime bewonderaar. Janson kan niks sleg doen nie en as hy iets regtig goed wou doen, soos 'n brief skryf, is hy onverbeterlik.

Ek was briesend.

Dit is die dank wat mens kry as jy iemand se gevoelens probeer spaar.

Ons briewe het al meer persoonlik geraak. Ek het nie geweet hoe om hom te laat besef ek weet van sy verraad nie. Dit kon hom knak. Janson is baie trots.

Die besigheid was in die moeilikheid maar Janson het my niks daarvan gesê nie ek moes dit in sy briewe lees en by Martie hoor. Hoe durf hy my met 'n vreemdeling bespreek? En aan haar verklap hoe moeilik dit vir hom is om vir my te vertel van die besigheid se moeilikheid?

Ek het met hom begin baklei sommer vir enige rede. Vanoggend het ek vir hom gesê ek trek uit ek gaan vir 'n ruk by ons oudste dogter bly. Hy het niks gesê nie, my net staan en aankyk en toe werk toe gery.

En nou sit ek hier met my tas op die voorstoep en wag vir die huurmotor.

Daar hou 'n motor stil. Dit is die blommewinkel se afleweraar. Hy het 'n bos blomme en 'n kaartjie.

Joleen

'Ek is jammer ek het jou so lank geterg. Ons sal maar eers ons speletjie moet staak al het ek dit natuurlik meer as jy geniet. Ons moet nou eers weer dink hoe ons finansieel gaan oorleef. Ek hoop dat jy by die huis sal wees vanaand dat ons enige ander misverstande kan bespreek.'

Groete, Janson.

My hande begin eers bewe van woede. Hoe kon hy dink dis snaaks om my so kwaad te maak? Maar dan kry ek my emosies onder beheer.

'Net 'n oomblik,' sê ek vir die afleweraar, en gee hom 'n paar rand vir 'n laaste ruiker vir Janson.

Ek ken my man, hy sal vanaand al oor ons begroting wil praat en hoe duur blomme deesdae is. Hy sal sê ons moet beplan want dinge werk nie sommer net vanself uit nie. Alles kan nie net maanskyn en rose wees nie.

Nou ja, ek het sy briewe en dis 'n fortuin werd, die enigstes wat hy ooit vir my geskryf het.

Ek sal maar versigtig moet wees in die toekoms . . . mens se eie hand is dikwels so 'n deel van jou noodlot jy kom dit skaars agter.

Kopiereg, raasbekkiesestories.