Saturday, October 31, 2009

Raasbekkiesestories: My laaste ruiker aan Janson


My laaste ruiker aan Janson

As mens 'n storie van sy oorsprong af volg wonder jy of dinge anders kon uitwerk. Sou ek en Janson nou op skei staan as ek nie daardie vervlakste blomme by sy kantoor laat aflewer het nie?
Sou ek nou hier met my tasse gepak op die stoep sit en wag het vir 'n huurmotor of is dit vooruit beplan dat dit so sou uitwerk? Na amper dertig jaar van 'n redelike huwelik.

Dit is nie 'n gewoonte om vir my man blomme te stuur nie ek het dit sommer gedoen op die ingewing van die oomblik. Di's hoe dit begin het.

Ek erken ek het te ver gegaan toe ek die winkelassistent vra om ' 'n Geheime Bewonderaar ' op die kaartjie te skryf.

Daardie aand het hy nie 'n woord gesê oor die blomme nie. Hy kon my nie in die oë kyk nie. Hy was die hele aand half ingedagte asof hy heelwat het om oor na te dink. Sy blou oë droomverlore.
Ek het my begin opwerk. Tot ek daaraan dink dat dit onregverdig is om vir jou man blomme te stuur en hom te laat wonder wie dit gestuur het. Amper asof ek probeer om hom uit te vang. My ouers is oorlede maar ek is seker my Ma sou sê dit was glad nie 'n slim idee nie.

Dit breek my hart dat hy so min aandag kry dat 'n bossie blomme van 'n vreemdeling hom kan verwar.

Ek kon dit nie daar laat nie. Ek het begin om een keer 'n week vir hom blomme te stuur om sy gevoelens te spaar, die misverstand was tog alles in ag genome my skuld. Sy oë het al blouer en dromeriger geraak. My geskimp oor die blomme is heeltemal geignoreer, amper asof hy nie wou weet dat dit sy lieflingvrou is wat die blomme stuur nie. Hy het al hoe meer puntenerig begin raak oor sy klere en hare. Ek het 'n monster geskep.

Martie, 'n goeie vriendin, werk vir Janson en is my oë aan die binnekant van sy besigheid. Natuurlik moet sy versigtig wees want Janson is nie 'n sagmoedige baas nie. Mens moet jou plek ken. Sy blou oë kan vlam vat as mens dit te naby waag. Van haar moes ek hoor hoe Janson so half en half begin bloos as hy die blomme kry.

Ek het begin om vir hom briewe te tik en saam met die blomme te laat aflewer. Ek het gehoop om binnekort iewers in die briewe te kan noem dat dit ek is wat vir hom die blomme stuur.

Hy besluit toe om 'n brief terug te skryf. Hy het die afleweraar ingenooi, verduidelik dat hy nie weet wie vir hom die blomme en die briewe stuur nie en 'n brief oorhandig wat moes gaan aan die geheime bewonderaar. Janson kan niks sleg doen nie en as hy iets regtig goed wou doen, soos 'n brief skryf, is hy onverbeterlik.

Ek was briesend.

Dit is die dank wat mens kry as jy iemand se gevoelens probeer spaar.

Ons briewe het al meer persoonlik geraak. Ek het nie geweet hoe om hom te laat besef ek weet van sy verraad nie. Dit kon hom knak. Janson is baie trots.

Die besigheid was in die moeilikheid maar Janson het my niks daarvan gesê nie ek moes dit in sy briewe lees en by Martie hoor. Hoe durf hy my met 'n vreemdeling bespreek? En aan haar verklap hoe moeilik dit vir hom is om vir my te vertel van die besigheid se moeilikheid?

Ek het met hom begin baklei sommer vir enige rede. Vanoggend het ek vir hom gesê ek trek uit ek gaan vir 'n ruk by ons oudste dogter bly. Hy het niks gesê nie, my net staan en aankyk en toe werk toe gery.

En nou sit ek hier met my tas op die voorstoep en wag vir die huurmotor.

Daar hou 'n motor stil. Dit is die blommewinkel se afleweraar. Hy het 'n bos blomme en 'n kaartjie.

Joleen

'Ek is jammer ek het jou so lank geterg. Ons sal maar eers ons speletjie moet staak al het ek dit natuurlik meer as jy geniet. Ons moet nou eers weer dink hoe ons finansieel gaan oorleef. Ek hoop dat jy by die huis sal wees vanaand dat ons enige ander misverstande kan bespreek.'

Groete, Janson.

My hande begin eers bewe van woede. Hoe kon hy dink dis snaaks om my so kwaad te maak? Maar dan kry ek my emosies onder beheer.

'Net 'n oomblik,' sê ek vir die afleweraar, en gee hom 'n paar rand vir 'n laaste ruiker vir Janson.

Ek ken my man, hy sal vanaand al oor ons begroting wil praat en hoe duur blomme deesdae is. Hy sal sê ons moet beplan want dinge werk nie sommer net vanself uit nie. Alles kan nie net maanskyn en rose wees nie.

Nou ja, ek het sy briewe en dis 'n fortuin werd, die enigstes wat hy ooit vir my geskryf het.

Ek sal maar versigtig moet wees in die toekoms . . . mens se eie hand is dikwels so 'n deel van jou noodlot jy kom dit skaars agter.

Kopiereg, raasbekkiesestories.





No comments:

Post a Comment