Saturday, November 14, 2009

raasbekkiesestories: Sjokolade Poetry



raasbekkiesestories: Sjokolade Poetry

Na twintig jaar as die reklameman van die grootste sjokolademaatskapy in Soetfontein is daar net een idee in Hermanus Breda se kop na sy bedanking en dit is dat hy nooit weer 'n sjokoladestafie wil sien nie. Trouens, hy sal nooit weer enige iets soets in sy huis toelaat nie.

Daarna is sy hoofdoelwit om vir een jaar lank alleen in sy huis te bly en op die meeste vir sy suster en haar man te gaan kuier een keer per week. Dis al. 'n Eiland is wat hy wil wees vir ten minste 'n jaar. Stories spin oor sjokolade is vir altyd verby. Hy sal weer werk soek na die eerste jaar verby is maar vir eers het hy genoeg gehad.

Die eerste paar maande is hemels. Hermanus staan vroeg op, maak koffie en gaan sit buite op die kombuistrap na die perskebome se geel blare wat val en kyk. Party aande vat hy sy kierie en stap ver ente en slaap dan sommer in die veld oor. Daar is meer as genoeg om te doen en Hermanus geniet elke oomblik van sy vryheid. Die stilte sonder telefone wat lui gee aan hom 'n ongekende heerlike vrede.

Al die rus en vrede maak sy kop so helder dat hy begin dig. In sy gedigte vat hy die dinge wat mense graag sou wou sê maar nie weet hoe nie netjies vas. Hy wys sy gedigte vir niemand. Dit behoort aan hom en hy wil geen kommentaar daarop hê nie.

Na drie jaar is Hermanus 'n kluisenaar wat so te sê met geen mens kontak maak nie. Hy kuier al minder by sy suster en raak al hoe meer in sy boeke en by die natuur betrokke.

Soos die geluk dit wil hê, breek diewe een aand in sy huis in terwyl hy iewers in die veld voor 'n vuurtjie sit en mymer. Hulle steel onder andere sy notaboek met al sy gedigte. In die binnekant het Hermanus oudergewoonte sy naam, adres en die datum geskryf.

Die diewe gooi die boek langs die pad weg en dit is Johannes Nel, nuusredakteur van die Soetfontein Herald wat dit die volgende oggend in die straat optel.

Johannes kan nie glo dat 'n man wat hom sy lewe lank met lekkergoed besig gehou het so kan skryf nie. Binne weke oortuig hy Hermanus dat die gedigte in die Soetfontein Herald gepubliseer moet word.

Hermanus is teen die tyd al vir vier jaar min of meer sonder geselskap en nie meer goed met stry nie. Verder leef hy al vir 'n hele ruk op die grens van werklike armoede.

Na 5 jaar sonder werk is dit Soetfontein se bankbestuurder se plig om Hermanus in te roep en aan hom 'n paar harde werklikhede mee te deel oor sy geldsake. Hermanus is so te sê bankrot, van sy pensioen wat hy uigekeer het bly niks oor nie en hy skuld die bank alles wat hy het en nog meer. Die bankbestuurder trek sy bo-lip op soos 'n hond wat gaan byt toe Hermanus hakkelend probeer verduidelik dat hy 'n paar rand gaan kry vir gedigte wat die redakteur van die Soetfontein Herald wil publiseer.

'n Maand later publiseer die Soetfontein Herald elke naweek drie van sy gedigte en dit is so gewild is dit dat nasionale koerante daarvan te hore kom. Die gedigte word oornag beskou as die nuutste Afrikaanse meersterwerke.

Hermanus gaan sien weer sy baas by die sjokolademaatskappy en word meegedeel dat hulle hom nie kan terugvat nie maar dat hulle wel 'n alternatiewe voorstel het. Hulle sal die kopiereg koop op sy naam en op sy gedigte vir 'n astronomiese bedrag en hulle sal hom ook tantieme betaal op die gebruik daarvan.

Hermanus het geen keuse nie, hy stem in. Die eienaar van die sjokolade fabriek glimlag en skakel die reklameafdeling.

Dit is omtrent twee maande later dat Hermanus deur sy geliefde veld stap en toe hy opkyk sien hy daar teen die horison 'n reuse advertensiebord. Hy stap nader en toe hy nog honderde meters ver van die bord is herken hy die profiel van sy eie gesig en baard en daar staan geskryf 'The Hermanus Chocolate Dream - Poetry in your Mouth.' Onder dit is een van sy gedigte in italic uitgeskryf langs die nuutste sjokolade stafie op die mark.

'Hulle het sowaar 'n sjokolade na my vernoem,' brom Hermanus en skop 'n klip uit sy pad.

Hy weet iets is nie reg nie maar hy kan nie presies sy vinger daarop sit nie. In al die jare van advertensiekopie, persverklarings en sjokolade resepte uitdink behaal hy nou skielik sukses me sy diepste gedagtes gekoppel aan sjokolade. Is sy lewe op een of ander manier vermeng met sjokolade? Het hy sjokolade karma?

'Dis goedkoop.' Besluit hy en wonder of dit veilig is om huis toe te gaan en of daar dalk alweer bewonderaars kampeer in sy voortuin. Die vorige groep het allerande hippie maniere gehad, kliphard musiek gespeel tot laat in die nag en amper die plek afgebrand met 'n 'kerse in 'n sirkel' ritueel.

In sy vyf jaar van afsondering het Hermanus nou so eenvoudig begin lewe dat hy nie die kompleksiteite van die lewe meer kon insien nie. Hy het eers nie mooi verstaan wat die implikasies was toe 'n nuwe musiektreffer gebaseer op een van sy gedigte die lig sien nie. Die woorde is effens aangepas en waar Hermanus geskryf het oor die skoonheid van die natuur en die son en maan en sterre het die sjokolademaatskappy dit ietwat verwerk en oral waar gepas is die woord 'sjokolade' ingewerk. Die gedig se naam was, 'Gee my die Skoonheid' en die liedjie se titel is ' Gee my 'n chocolate'.

Hermanus was stink-stink ryk. Dit het die bankbestuurder 'n uur gevat om dit aan hom te verduidelik. Die bankbestuurder was meer opgewonde as Hermanus wat hom net kon sit en aankyk.

En so het Hermanus finansieel oorleef. Hy was tevrede. Hy kon tog op 'n manier daarmee saamleef dat hy beroemd geraak het vir die woorde van 'Gee my 'n chocolate'

Die woorde van 'Gee my die Skoonheid.' het iemand verloor. Hy was al een wat die woorde geken het. Tog, hy kon die woorde duidelik onthou.

Hy kon die woorde onthou dit was syne en verder kon hy ook 'n dak oor sy kop hou.



Wednesday, November 4, 2009

raasbekkiesestories: Huweliksherdenking


raasbekkiesestories: Huweliksherdenking


Ronel tik die laaste punt agter die laaste sin van die voltooide manuskrip en kliek op die "print" knoppie. Sy sit vir 'n paar sekondes stil om die oomblik te waardeer. Haar bydra tot die hantering van stress in verhoudings is na twee jaar se werk afgehandel.

Die drukker staan in Andries se studeerkamer en sy staan op om die uitdruk te gaan haal. Haar gedagtes kring weg na hul sewende huweliksherdenking oor twee dae. Dit het goed gegaan as mens in ag neem hoe besig hulle alby was.

Haar voet stamp teen 'n skryfblok wat van sy lessenaar afgeval en op die mat beland het. Sy buk om dit op te tel en trek aan 'n hoek van 'n vel papier wat agter tussen die lee bladsye ingedruk is. Dis 'n liefdesgedig, aan Andries gerig maar nie onderteken nie. Die drukker maak 'n piep geluid om aan te dui dat die laaste bladsy van die manuskrip gedruk is. Sy staar eers begriploos daarna voor sy weer die woorde van die gedig lees. Dan draai sy om en gaan haal haar motorsleutels.

Sy sekretaresse beduie vir haar waar die plek is. Sy kyk deur die motorvenster na waar Andries op 'n stoel buite die restaurant sit. Haar hande bewe. Hy bestel koffie en leun in sy kenmerkende houding terug met sy een arm oor die agterkant van die stoel. Ronel wil die motordeur oopmaak toe 'n vrou met lang blonde hare en 'n tydskrif in haar hand na Andries aangestap kom. Hy wink vir haar en sy stap tot by hom en trek haar stoel nader aan syne. Sy is pragtig. Hulle blaai deur die tydskrif en Andries begin beduie asof 'n artikel hom interesseer.


Sy skakel die motor aan en ry terug huis toe. 'n Tamheid spoel oor haar en sy wonder waar sy die krag gaan kry om uit die motor te klim en tot by die voordeur te loop.

Sy sit die gedig op die eetkamertafel neer waar Andries dit dadelik sal sien, skink 'n sterk koppie koffie en gaan sit daarmee in die sitkamer. Sy probeer iets onthou oor die hantering van stress in verhoudings maar haar keel wil toetrek en sy kan skaars die koffie gesluk kry. Die horlosie teen die kombuismuur tik die sekondes af, 'n kraan in die kombuis drup elke twee minute.

Sy verstyf toe sy die motorligte teen die gordyne sien en sy motor hoor intrek. Hy sluit die voordeur oop en sit sy aktetas langs die eetkamertafel neer. Dan is daar stilte.

'Ronel?'

Sy sit sonder om te beweeg en hy skakel die lamp wat langs die rusbank staan aan. Hy staan voor haar met die gedig. Hy is lank, goed gebou en baie manlik.

'Ronel, is jy okay?' hy kom sit langs haar maar sy skuif van hom af weg.

'Kyk vir my,' sê hy en buig af om iets uit sy aktetas te haal.

'Die gedig is vir jou, dis deel van die geskenk wat ek vir jou gekry het vir ons herdenking, ek het dit vanmiddag bestel.' Hy hou die toegedraaide pakkie na haar uit maar sy vat dit nie.

'Ek het iemand gekry om die gedig te redigeer want jou skryfstandaarde is so hoog ek wou spelfoute en goed vermy. Dit sou eers more klaar wees dan sou ek dit vir jou gee saam met die pakkie,' hy glimlag 'jy weet ek kan nie spel nie.'

Sy kan hom net aanstaar.

'Ek gaan haal vir jou nog koffie,' sê hy, en stap kombuis toe.
Ronel torring stadig die pakkie oop en sien die halsnoer wat skitter in 'n spektrum van kleure onder die lamplig.

Hy hou die beker koffie na haar uit.

'Ek is jammer Andries, maar ek het nie geweet wat om te dink nie,' prewel sy.

'Ek's lus en vat jou vanaand al uit vir ete maar jy lyk te uitgeput en ons gaan mos more aand uit. Ek moet net eenvoudig vanaand die vergadering met my boekhouer bywoon, ek het dit al te lank uitgestel. Is jy okay?' hy kyk na haar met die bekende uitdrukking wat haar altyd veilig laat voel.

'Ek's heeltemal reg, ek moes weet ek kan jou vertrou,' sê sy.



Nadat hy gestort en gery het wonder Ronel lank oor die waarde van haar manuskrip, Die hantering van stress in verhoudings. Dit het haar darem onbewustelik seker gehelp dink sy. Anders het sy Andries dalk met 'n broodmes by die hek ingewag.

Die foon lui en sy staan op om te antwoord.

'Hallo Ronel, wat van ons afspraak van vanmiddag? Ek dog jy't iets oorgekom?' vra Brand, haar uitgewer.

'O, hallo Brand, daar het iets voorgeval, 'n misverstand, ek's jammer.' haar oog val op die horlosie teen die muur. 'Kan ek jou nie maar nog steeds kry by die Tavern nie?' vra sy.

'Dis reg, sien jou daar so oor 'n halfuur? Moet nou nie die manuskrip vergeet nie." lag hy.

Die Tavern is vol. Ronel soek buite na 'n tafel. Sy blaai deur die manuskrip terwyl sy wag.

'Hoe gaan dit?' Brand glimlag sy aantreklike glimlag en bestel 'n bier by die kelnerin wat hom bewonderend aanstaar.

'Dis omtrent tyd Juffroutjie, ons wag al lank hiervoor.' Hy kyk streng na haar.

'Mevrou, vir jou.' 'n lang gestalte staan langs die tafel en Ronel kyk vas in Andries se bleek gesig.

'Andries!' Ronel kan nie veel meer as dit uitkry nie.

"n Mens is natuurlik baie oplettend as jy self agter die deur staan.' Andries is woedend.

Brand staan op, 'Aangenaam, Brand Botha, Ronel se uitgewer.' Hy steek 'n hand uit, laat dit ongemaklik val toe dit nie gevat word nie en gaan sit weer.

Ronel kry haar stem terug. 'Andries, laat ek jou voorstel aan my uitgewer Brand, ons het afgespreek om mekaar vanmiddag te kry maar . . . iets het voorgeval en ek het sommer nou gou vir hom die manuskrip gebring.' verduidelik sy.

Andries bly staan.

Brand maak haastig die manuskrip oop en begin dit deurblaai asof hy net gou wil seker maak alles is daar. 'Jy's 'n gelukkige man' sê hy en hou die eerste bladsy onder die lig wat bo die tafel hang.

Andries buig af om in die skemer lig die woorde uit te maak, 'Opgedra aan my man, Andries, sonder wie dit nie moontlik sou wees nie.'

Andries sê niks byt net op sy tande en gaan sit langs haar.

Brand drink sy bier vinnig, tel die manuskrip op en groet.

Hulle sit vir 'n rukkie in ongemaklike stilte.
Dan draai sy na hom.
'Quits?' vra sy en lig haar wynglas.
'Quits.' stem hy in en tik sy glas teen hare.