Saturday, November 14, 2009

raasbekkiesestories: Sjokolade Poetry



raasbekkiesestories: Sjokolade Poetry

Na twintig jaar as die reklameman van die grootste sjokolademaatskapy in Soetfontein is daar net een idee in Hermanus Breda se kop na sy bedanking en dit is dat hy nooit weer 'n sjokoladestafie wil sien nie. Trouens, hy sal nooit weer enige iets soets in sy huis toelaat nie.

Daarna is sy hoofdoelwit om vir een jaar lank alleen in sy huis te bly en op die meeste vir sy suster en haar man te gaan kuier een keer per week. Dis al. 'n Eiland is wat hy wil wees vir ten minste 'n jaar. Stories spin oor sjokolade is vir altyd verby. Hy sal weer werk soek na die eerste jaar verby is maar vir eers het hy genoeg gehad.

Die eerste paar maande is hemels. Hermanus staan vroeg op, maak koffie en gaan sit buite op die kombuistrap na die perskebome se geel blare wat val en kyk. Party aande vat hy sy kierie en stap ver ente en slaap dan sommer in die veld oor. Daar is meer as genoeg om te doen en Hermanus geniet elke oomblik van sy vryheid. Die stilte sonder telefone wat lui gee aan hom 'n ongekende heerlike vrede.

Al die rus en vrede maak sy kop so helder dat hy begin dig. In sy gedigte vat hy die dinge wat mense graag sou wou sê maar nie weet hoe nie netjies vas. Hy wys sy gedigte vir niemand. Dit behoort aan hom en hy wil geen kommentaar daarop hê nie.

Na drie jaar is Hermanus 'n kluisenaar wat so te sê met geen mens kontak maak nie. Hy kuier al minder by sy suster en raak al hoe meer in sy boeke en by die natuur betrokke.

Soos die geluk dit wil hê, breek diewe een aand in sy huis in terwyl hy iewers in die veld voor 'n vuurtjie sit en mymer. Hulle steel onder andere sy notaboek met al sy gedigte. In die binnekant het Hermanus oudergewoonte sy naam, adres en die datum geskryf.

Die diewe gooi die boek langs die pad weg en dit is Johannes Nel, nuusredakteur van die Soetfontein Herald wat dit die volgende oggend in die straat optel.

Johannes kan nie glo dat 'n man wat hom sy lewe lank met lekkergoed besig gehou het so kan skryf nie. Binne weke oortuig hy Hermanus dat die gedigte in die Soetfontein Herald gepubliseer moet word.

Hermanus is teen die tyd al vir vier jaar min of meer sonder geselskap en nie meer goed met stry nie. Verder leef hy al vir 'n hele ruk op die grens van werklike armoede.

Na 5 jaar sonder werk is dit Soetfontein se bankbestuurder se plig om Hermanus in te roep en aan hom 'n paar harde werklikhede mee te deel oor sy geldsake. Hermanus is so te sê bankrot, van sy pensioen wat hy uigekeer het bly niks oor nie en hy skuld die bank alles wat hy het en nog meer. Die bankbestuurder trek sy bo-lip op soos 'n hond wat gaan byt toe Hermanus hakkelend probeer verduidelik dat hy 'n paar rand gaan kry vir gedigte wat die redakteur van die Soetfontein Herald wil publiseer.

'n Maand later publiseer die Soetfontein Herald elke naweek drie van sy gedigte en dit is so gewild is dit dat nasionale koerante daarvan te hore kom. Die gedigte word oornag beskou as die nuutste Afrikaanse meersterwerke.

Hermanus gaan sien weer sy baas by die sjokolademaatskappy en word meegedeel dat hulle hom nie kan terugvat nie maar dat hulle wel 'n alternatiewe voorstel het. Hulle sal die kopiereg koop op sy naam en op sy gedigte vir 'n astronomiese bedrag en hulle sal hom ook tantieme betaal op die gebruik daarvan.

Hermanus het geen keuse nie, hy stem in. Die eienaar van die sjokolade fabriek glimlag en skakel die reklameafdeling.

Dit is omtrent twee maande later dat Hermanus deur sy geliefde veld stap en toe hy opkyk sien hy daar teen die horison 'n reuse advertensiebord. Hy stap nader en toe hy nog honderde meters ver van die bord is herken hy die profiel van sy eie gesig en baard en daar staan geskryf 'The Hermanus Chocolate Dream - Poetry in your Mouth.' Onder dit is een van sy gedigte in italic uitgeskryf langs die nuutste sjokolade stafie op die mark.

'Hulle het sowaar 'n sjokolade na my vernoem,' brom Hermanus en skop 'n klip uit sy pad.

Hy weet iets is nie reg nie maar hy kan nie presies sy vinger daarop sit nie. In al die jare van advertensiekopie, persverklarings en sjokolade resepte uitdink behaal hy nou skielik sukses me sy diepste gedagtes gekoppel aan sjokolade. Is sy lewe op een of ander manier vermeng met sjokolade? Het hy sjokolade karma?

'Dis goedkoop.' Besluit hy en wonder of dit veilig is om huis toe te gaan en of daar dalk alweer bewonderaars kampeer in sy voortuin. Die vorige groep het allerande hippie maniere gehad, kliphard musiek gespeel tot laat in die nag en amper die plek afgebrand met 'n 'kerse in 'n sirkel' ritueel.

In sy vyf jaar van afsondering het Hermanus nou so eenvoudig begin lewe dat hy nie die kompleksiteite van die lewe meer kon insien nie. Hy het eers nie mooi verstaan wat die implikasies was toe 'n nuwe musiektreffer gebaseer op een van sy gedigte die lig sien nie. Die woorde is effens aangepas en waar Hermanus geskryf het oor die skoonheid van die natuur en die son en maan en sterre het die sjokolademaatskappy dit ietwat verwerk en oral waar gepas is die woord 'sjokolade' ingewerk. Die gedig se naam was, 'Gee my die Skoonheid' en die liedjie se titel is ' Gee my 'n chocolate'.

Hermanus was stink-stink ryk. Dit het die bankbestuurder 'n uur gevat om dit aan hom te verduidelik. Die bankbestuurder was meer opgewonde as Hermanus wat hom net kon sit en aankyk.

En so het Hermanus finansieel oorleef. Hy was tevrede. Hy kon tog op 'n manier daarmee saamleef dat hy beroemd geraak het vir die woorde van 'Gee my 'n chocolate'

Die woorde van 'Gee my die Skoonheid.' het iemand verloor. Hy was al een wat die woorde geken het. Tog, hy kon die woorde duidelik onthou.

Hy kon die woorde onthou dit was syne en verder kon hy ook 'n dak oor sy kop hou.



3 comments:

  1. Dit laat my dink aan wat met Girolamo, die storieverteller, in die boek "Momo" van Michael Ende gebeur het - die tyddiewe het hom beroemd laat word, toe raak Girolamo se stories op en hy begin swak stories skryf, tog het hy nog steeds beroemder geword - maar sielsongelukkig binne in sy hart gevoel!

    ReplyDelete
  2. Dankie Peanuts jou kommentaar is baie goed. Wil jy weet hoekom? Eerstens, omdat dit raasbekkie, wat baaaie beskeie is, vergelyk met 'n skrywer wie se boeke al in 40 tale vertaal is. Tweedens, omdat ek nog nie, sover ek weet, iets gelees het wat Michael Ende geskryf het nie en nou my oë gaan oophou vir een van sy boeke. Ek het hom nou gegoogle en ek sien hy is veral bekend vir sy kinderstories maar Momo is op volwassenes gerig. En derdens omdat hy ekonomiese kommentaar lewer in sy stories en raasbekkie stel baie in ekonomie belang want sy wil weet wat om met die geld te doen wanneer sy die lotto wen.

    Ek was gou by jou blog, dit lyk goed!

    ReplyDelete
  3. Dankie vir die lekker terugvoer! Ek vind boek analises op die Internet vreeslike vervelig, die kommentaar op Momo lees soos vervelige skoolvoorligting. Gaan lees Momo, hy is Pretoria hoofbib, en verlustig jou in die beskrywing van tyd as lieflike rose wat oopblom, die volgende een altyd mooier as die vorige een. En die beskrywing van musiek... fantasties! Het jy al die fliek 'Amadeus' oor Mozart se lewe gesien? Luister bietjie na Salieri se onteldings van Mozart se musiek - dis so mooi, ek hou om daardie rede van Salieri ook - as karakter, nie as komponis nie - dis uitsonderlik lekker.

    ReplyDelete